Ambassade, Kweekhuis, Kerk

Ons lewe in ‘n wêreld waar filosofieë (meestal onwillekeurig) met die tyd ontwikkel en verander; filosofieë wat die grondslag van ons gedeelde samelewing vorm. Ons in hierdie 21ste eeu lewe in ‘n oorwegend sekulêr-humanistiese tyd, met mense se gelowe en oortuigings soos private choc-chip stukkies in die publieke, sekulêre koekie verstrooi. Hierdie koekie is die gees van ons tyd – en ons voel dit aan in die ongeskrewe reëls van ons dag-tot-dag: by die werk, by die winkel, by kuiers, in ons verskeie openbare ruimtes, en selfs ook aanlyn.

Ongeveer 2000 jaar gelede is daar ‘n vreemde man in die wêreld van daardie tyd gebore. Hierdie man was Jesus, die Messias/Christus, die Verlosser van die wêreld, soos deur Joodse profete vir eeue reeds voorspel. Hy het deur die gees van daardie tyd (en alle tye sederdien) kom breek en ‘n dieper werklikheid kom openbaar aan almal wat wou luister: die Koninkryk van God. Dis die lewe in God herstel, waar alles deur Sy dood, opstanding en gehoorsaamheid aan Hom genees is. Jesus het die meeste van Sy tyd op Aarde spandeer om ons te vertel oor die Koninkryk van God. Hy verlaat toe die Aarde, vra ons om mense te leer om in Sy Weg te wandel, en stuur die Heilige Gees om ons te lei. Deur die leiding van die Gees vorm Sy eerste dissipels gemeenskappe van gelowiges, wat oor die eeue gegroei en vervorm het in die diverse, wonderlike, stukkende liggaam wat ons die Kerk noem.

Paulus verwys in 2 Korintiërs 5 na dissipels van Jesus as ambassadeurs van die Koninkryk van God op Aarde. Ambassadeurs is verteenwoordigers van een land binne ‘n ander land. Nou, as die Kerk die liggaam is wat bestaan uit die dissipels van Jesus as haar lede, dan kan die Kerk as ambassade van die Koninkryk van God op Aarde, in ons hier en nou, beskou word. ‘n Ambassade is ‘n instansie/gebou wat een land binne die grense van ‘n ander verteenwoordig. Ongeag die fisiese ligging daarvan, val dit onder die heerskappy en dikwels die wette van die land wat dit verteenwoordig. ‘n Gepasde parallel hier is ‘n kweekhuis, wat ‘n klimaat het wat verskil van die omgewing rondom dit.

Waarop stuur ek af? As die Kerk as die ambassade van die Koninkryk van God in ons wêreld beskou kan word, of ‘n kweekhuis wat iets van die klimaat van die hemel hier op Aarde kan beliggaam, wat sê dit dan van die rol daarvan in ons wêreld? Kom ons kyk vir ‘n oomblik deur die stukkende kerk met al haar foute en vlekke, en loer met ons geestesoë na die wonderlike kerk waarna die Here as haar bruidegom verlang en wat ons wél hier en daar op dikwels onverwagse plekke teëkom. Die Kerk in ons wêreld se grense is, soos die Here se dissipels wat haar opmaak, ‘n ontmoetingspunt tussen twee wêrelde. In die konteks van ons hier en nou, midde-in die gees van ons tyd, kan mens in die tuine van hierdie geheimsinnige ambassade in wandel, en vra: hoe sou ons plekke, ons mense, ons tyd lyk in die lig van God se Realiteit, in die atmosfeer van die Koninkryk van God? As die konteks waarin ons leef ‘n hartsoorplanting kon ondergaan, hoe sou dit kon lyk?

Hoe sou ons dorp en ons samelewing lyk as God se liefde en genade en krag-in-ons ons sou begin losmaak van vrees en selfbehoud? Hoe sou ‘n tasbare bewustheid van God se Vaderhart vir al Sy kinders ons dring tot versoening oor grense wat in die wêreld (in Suid-Afrika!) taboe is? Hoe sal onvoorwaardelike liefde ‘n jy-is-wat-jy-doen samelewing kan transformeer? Hoe lyk sorg wat deur die mure van ons hendendaagse individualisme reik? Hoe sal gesonde verhoudings, gesonde enkel-wees, gesonde huwelike, gesonde gesinne en gesonde vriendskappe in ons eie konteks lyk?
Wat as die kerk, en sy plaaslike gemeentes, as kweekhuis kan dien juis hiervoor? As ‘n dapper teen-kultuur wees-en-word gemeenskap, waar die Koninkryk van God in ons hier en nou beliggaam word deur eenvoudig in die Woord van God gewortel te wees, en gehoorsaam te wees aan waarmee Sy Gees besig is (lees hierdie sin weer). Nie vanuit ‘n plek van kyk vir ons, ons is beter as julle nie (alles behalwe!), maar vanuit ‘n bewustheid van ons absolute afhanklikheid van God en Sy daaglikse genade. Een wat deur ons doen en late roep daar’s meer!

Hoekom fokus ek in hierdie gedeelte op die Kerk? Kan mens nie hierdie as dissipel van Jesus op jou eie doen nie?
Ek glo nie mens kan nie; ons het mekaar nodig. Dis in gemeenskap wat ons gevorm word, uitgedaag word, genees word, verantwoordelik gehou word en herinner word aan wie ons is (veral in valleie en woestyntye, wanneer ons geneig is om te vergeet). In gemeenskap sluit ons ‘n ons is saam in hierdie ding verdrag, en ons staan in vir mekaar. En daarom dink ek nie een mens of gesin kan ‘n volhoubare kweekhuis of ambassade wees nie. Maar ‘n gemeente kan, die kerk kan.

En tog moet ons erken dat baie gemeentes, dalk die grootste deel van die kerk, nie is nie. Soort-soek-soort, elkeen vir homself, besigheid is besigheid, lewens met versteekte kompartemente, ek-gesentreerdheid, ensovoorts bestuif en verdring soos onkruit die kweekhuis grond wat só ryk is met roeping en potensiaal om iets geheel anders, iets mooi, heilig, transformerend na vore te bring.

Maar deur God se genade kan dit wees. Ten spyte en te midde van ons sondige natuur. Ek het dit al self ervaar. En ek wil hierdie stuk afsluit deur aan ons elkeen ‘n uitnodiging te rig. Mag ons betrokke raak by ‘n plaaslike gemeente van die kerk van Christus. En mag ons besef dat ons saam geroep is om – deur ons gehoorsaamheid aan God se Woord en Gees, en deur ons liefde aan mekaar – saam die Koninkryk van God te sien deurbreek waar ons is.

“Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die Paradys van God is”

Openbaring 2:7

One thought on “Ambassade, Kweekhuis, Kerk

  1. Die ware kerk is nie daai ondier met klokke en torings wat aanvoer dat dit kerk is maar as’t ware Sy liggaam fragmenteer nie. Ware kerk is laas gesien in Handelinge 2 & 4. Of tussen inboorlinge op eilandjies. Ek weet, was jare in sending. Het Jesus nog nooit in die kerk ervaar nie maar wel by ‘n rowwe Rasta op die stasie, toe die kerk se mense onnoembare dinge aan my en my gesin gedoen het maar ‘n gevonnisde pedofiel by hulle kinders laat speel het. Jip.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.