Sy Gesig in die Swakstes

Ek het dit ervaar toe ons onlangs by vriende met twee kinders gaan kuier het. Ek ervaar dit wanneer ek in die teenwoordigheid van my vrou se ouma is. Ek het dit ervaar toe ek die naweek met ‘n vriend oor sy broer met Down’s Sintroom gesels het. Iets gebeur in my wat ek sukkel om te verwoord – maar ek wil probeer.

Ons kuier onlangs by vriende in Gordonsbaai. Dis ons eerste vriendin wat ‘n ma geword het, so dis nog nuut vir ons. Die seuns is aanvanklik ongemaklik skaam, dan (oomblikke later) wil die een sommer sy kamer vir my wys. Wag, wat? Dis weird – maar hierdie outjie het nie ‘n idee (of ‘n saak) met watter ordentlikheidsgrense ek vir myself opgesit nie. Hy wil sy kamer vir my wys. Later, terwyl ons sit en gesels, kom die een boetie in en vra of sy ma ‘n rukkie langs hom kan kom lê. Iets aan sy skaamtelose behoefte aan fisiese nabyheid en intieme liefde roer my onverwags. So kwesbaar, so eerlik, so mens…

My skoon-ouma (wat ek nou ouma noem) kuier hier op Stellenbosch by my skoonmense, waar ek en my vrou ook tans bly. Die jare vat al aan haar, en sy kan ‘n hele paar goed nie sommer meer vir haarself doen nie. En iets aan haar brose afhanklikheid van my skoonma – om iets te kan eet, om te gaan stap, om soms selfs op te kom – tref my as …heilig. Hierdie mens wat nie meer regtig in ‘n posisie is om enigiemand te beïndruk nie, se lewe bestaan bloot uit liefde gee, liefde ontvang en uit die eenvoudigste daaglikse ritmes van dit wat ons mens maak. En iets in daardie maskerloosheid tref my diep.

Die morsige kwesbaarheid van kind-wees, en van oud-word. Iets van hulle afhanklikheid van ‘n medemens breek deur die aangeleerde narratief van onafhanklikheid en self-voldaning in my. En dit ontbloot ook my eenvoudige behoefte om vir iemand lief te wees, en terug liefgehê te word. Om met iemand te wil deel wat vir my interessant is, om stories uit te ruil of net eenvoudig saam te eet. Wanneer ons ons verdedigingsmeganismes en aangeleerde strewe opsy sit, is hierdie maskerlose medemenslikheid wat bly staan.

“Salig is dié wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.”

Jesus in Mattheus 5:3

“En toe Hy verbygaan, sien Hy ‘n man wat blind was van sy geboorte af. En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is? Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.”

Johannes 9:1-3

Volgens Genesis is ek en jy is in die beeld van God gemaak. Dan Allender noem in ‘n onlangse Podcast dat ons as’t ware gesigte van God is: ons weerspieël iets van Hom, ons elkeen op ons eie, unieke manier. En wanneer twee mense bymekaar kom is daar hierdie wonderlike ding wat gebeur, dat twee kinders van God deur hulle liefde die Here binne hulle aan mekaar openbaar. Sawubona: ek sien jou.
Ongelukkig besoedel en beperk ons stukkendheid, ons selfgesentreerdheid, ons behoefte om te beïndruk, en ons selfbeskerming hierdie heilige omgaan. Ons maskers verbloem die gesig van God, en verstomp daarmee saam ons liefde.

Maar iets daarvan word in die kinders, die bejaardes en die gestremdes in ons samelewing aan ons ontbloot. God openbaar Homself mildelik deur die swakker lede van ons samelewing – en ek dink dis hoekom Jesus sóveel tyd vir hierdie mense gehad het (en seker steeds het).

“In daardie tyd het die dissipels by Jesus gekom met die vraag: “Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel?” Hy het ‘n kindjie nader geroep en hom tussen hulle laat staan en gesê: “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel.”

Jesus in Mattheus 18:1-4

Terwyl ek deur dié week gekou het aan hierdie onderwerp, is ek bewus gemaak van hoe ons eerlike medemenslike behoeftes deur ons bemaskerde omgaan met mekaar skyn. Om byvoorbeeld mense oor te nooi vir ete, kan ‘n stylvolle storie met “fancy” disse en goeie wyn en wat ookal wees; die hart daarvan is dat ek jou in my huis innooi, van my kos met jou deel omdat ek lief is vir jou en ek jou graag saam met my aan my tafel wil hê. Sit ‘n bietjie hierdie bril vandag op as jy na mense se interaksies kyk, stroop die interaksies van hulle stylvolle ekstras en jy sal sien wat ek bedoel.

So – mag ons ontwaak vir die gesig van God in ons medemens. En mag ons veral ons oë en verwondering draai van die sogenaand groot en cool en prysenswaardig in ons samelewing, na dié wat aan ons ‘n onderstebo Koninkryk openbaar, en daarmee saam ‘n God wat nie ‘n saak het met ons maskers nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.