Dood se Dinges

Ek dink nogal dikwels in terme van teenstrydige narratiewe, of verskillende hoeke waaruit die storie van wie ons is vertel en beskou kan word. My broer het onlangs dit anders gestel, deur te verwys na twee paaie waarin mens op enige tyd kan stap. Ek het die afgelope week daarvan bewus geraak dat daar een narratief veral is wat mens maklik in hierdie wêreld begin glo, omdat almal rondom mens so maak. En dis die pad van verganklikheid.

Dis die storie dat ons elkeen se lewe tydelik is, dat ons lewens maar ‘n stadige agteruitgang en dan dood is — dat ek en jy tot ‘n beperkte bestaan verdoem is. En sodra ons saamstem met hierdie narratief, al is dit hoé subtiel, bou dit ‘n hok om ons hart wat ons hoop kan uitteer en van ons geloof ‘n bakkie water binne die hok maak.

Die hele wêreld is aan die vlug vir die dood. Siek en bejaarde mense word agter hoë mure en toe deure behandel; ons wil nie daarvan weet nie. Ons trek ons eie aandag van ons verganklikheid af met ‘n gejaag na ‘n kaleidoskoop van dit en dat; dit wat blink, dit wat pieng, dit wat genoeg geraas in ons dag-tot-dag maak dat ons vergeet van hoe min daar van ons en ons geliefdes se aardse paadjie oor is.

Ek is daarvan oortuig dat die mens se vrees vir doodgaan die wortel is van die meeste wanhoop in hierdie lewe. En ek wil hierdie duidelik maak: selfs ook in kinders van God.

Mens kan sê jy glo in ‘n ewige lewe, maar in jou diepste wese eintlik die narratief van die dood, van verganklikheid, van die tevergeefsheid van die lewe glo. Ek het laasweek sélf geworstel met ‘n subtiele wanhoop wat onverklaarbaar in my gemoed kom intrek het. Dit het vieslik in my hart kom amok maak, tot die Here vir my kom wys het hoe ek op ‘n kol onderliggend ja gesê het vir die narratief van die dood. En die res is ‘n uitvloeisel daarvan.

Dit het ‘n oggend stiltetyd-sessie van inhibisielose aanbidding geverg, waarin my enorme, onomwonde JA vir die Here my kleiner ja vir die leuen van die dood as indringer en doring kom ontbloot het. En deur Jesus se gesag en krag alleen kon ek hierdie kleiner storie verwerp, en myself vul met die Waarheid. Wat ‘n lafenis! Wat ‘n bevryding!

Wat is dié waarheid?
Die Here God is die Bron en Maker van alle lewe. Hy alleen is goed, en alles goed is goed omdat dit in Hom verborge en deur Sy lewe gevul word. Hy is ewig en onverganklik. Hy het die wêreld geskep om ook ewig te wees — maar weens die mens se keuse om nie een met Hom te wees nie, het ons onsself afgesny van Sy lewe, en het ons onsself en die die hele Skepping verdoem tot ‘n tydelike bestaan. Deur Sy onblusbare liefde het Hy egter gekies om mens te word, ons skuld op Hom te neem deur te sterf aan die kruis, en die dood te oorwin deur op te staan. Elkeen wat in Hom glo, en hul lewe vir Hom gee, ontvang Sy lewe en gooi die afgeleefde jas van ‘n tydelike bestaan af in ruil vir die onverganklike, ewige lewe:

Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?

Jesus in Johannes 11:25-26

Watter onbeskryflike hoop! Watter bruisende vreugde! Mens wil soos ‘n dier wie se hok oopgemaak is, nog huiwer by die oop deur… Maar soos die profeet in Jesaja 40 roep: die uitkoms is hier, die uitkoms is hier! Vriende, die dood is ‘n leuen, die verganklikheid van die lewe is ‘n leuen! Oud-word, siek-word, wegkwyn — hierdie is merke van ‘n ou realiteit. Die seuns en dogters van God sal nie dood proe nie. En soos Jesus in Openbaring 21 sê: Hy gaan nie net vir ons nie, maar alles nuut maak. Dus: jy kan ophou vlug, jy kan ophou rondskarrel op soek na stukkies hoop. Deur Jesus is die angel verwyder en deur Sy Gees leer ons loop in hierdie nuwe realiteit. Haal diep asem en ontwaak vir die glorieryke, aansteeklike hoop wat hierin opgesluit is. Dit is dié goeie nuus waarna die wêreld, nes ek en jy, ten diepste smag.

Mag jy enige ja vir die leuen van die dood summier uittrek en afgooi. Mag jy jou diepste JA vir ons Maker, Redder en Here gee — en mag Sy ewige lewe soos koel drinkwater in jou opborrel, om ook vir ander ‘n fontein van bevryding te word.

Christus het ons vrygemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie.

Paulus in Galasiërs 5:1