Meer as ’n Teleurstellende Lewe

Ek stap onlangs verby ‘n boekwinkel. En om een of ander rede word my oog gevang deur die kleurvolheid van die boeke in die kinder-afdeling. Kleurvol, nie net in terme van blou, rooi en geel nie – maar in terme van die opwinding en belofte van nuwe dinge leer. Tussen die storieboeke is daar boeke wat jou woordeskat ontwikkel, boeke wat probleemoplossing aanhelp, ‘n boek vir wat nog alles. Sóveel potensiaal, en hierdie boeke probeer hul bes om dit te ontgin.

Die boeke in die volwasse afdeling, darenteen, is minder kleurvol. Die mees opwindende afdeling het ‘n paar boeke oor sport, een is selfs deur ‘n paar Springbokke onderteken. Verder is daar die gewone boekwinkel afdelings (‘n onderwerp vir ‘n ander dag): ekonomie, wetenskap, filosofie, godsdiens, self-help, fiksie, topverkopers. En soos ek daar staan, word ek diep getref deur die starre kontras in passie en vuur en momentum tussen die kinderafdeling en die res.

Waar is alles heen? Op watter punt taan die kinderboeke se kleur?

Ons maak ons kinders groot met opwinding, met ‘n byna modernistiese gedrewenheid. Die bondeltjie mensie word gevoed, leer kruip en loop, leer praat, lees en skryf. Dan begin hy (/sy) leer oor hoe die wêreld werk en wat daarin is: aardrykskunde, biologie, wetenskap, wiskunde, ekonomie. Hy gaan skool toe om teen ‘n vurige spoed te leer. ‘n Hele ondersteuningsnetwerk roep as’t ware kom, kom, kom boetie/sussie!! Die sport na skool is ‘n uitbeelding van die momentum en belangrikheid van die ander aspekte van daardie lewensfase.

Maar iewers, op ‘n kol, gaan daardie momentum. Iewers bereik ‘n kind die punt waar hy oud genoeg is om die wêreld met sy eie oë te begin sien, eerder as via grootmense se konteks. Hy begin dieper vrae vra. Soos hoekom? En vir die eerste keer in sy lewe het nie sy ouers of die juffrou by die skool of die wêreld se ensiklopedieë en boeke ‘n sterk en koherent genoeg antwoord nie. Jong vlerke tref vir die eerste keer turbulensie, en verloor effe momentum… Ja, ek glo die tienerfase is deel van ‘n gesonde huis-ontgroei proses – maar ek vermoed ook dat iets van ‘n tiener se onstabiliteit spruit uit ‘n diep ontnugtering met die wêreld. ‘n Teleurstelling met die lewe.

Ons leer lees en skryf, sodat ons kan gaan studeer, sodat ons sal kan werk, sodat ons sal kan geld maak en iets bydra tot hierdie lewe, sodat ons kan lewe en die wéreld ‘n beter plek maak, sodat uhm, want ons moet lief wees vir mekaar, want, uhm…
Ons hardloop uit goue draadjie uit, en dis waar ons kleur en momentum en passie uitlek.

Dit het vir seker so met my gebeur. Iewers in my huis-verlaat en Universiteit-toe gaan is ek getref deur ‘n absolute verlies aan hoekom; ‘n lugleegte eerder as turbulensie. En ek het ‘n jaar lank met desperate vlerke geval: wat is die punt van die lewe as alles verby gaan en as almal dood gaan? Snakkend op soek na sin is ek ‘n jaar van depressie deur…tot ek op 31 Desember 2009 op die strand my lewe oorgegee het aan ‘n hoekom mooier en sterker en groter as enige ander. My Maker het my genooi om myself te verloor en vind in Sy doel vir my, Sy Weg, Sy lewe. En van daardie volgende oggend af is daar ‘n nuwe lewe in my: ‘n fontein van lewende water in my gees en wonderlike lug onder my vlerke.

Wag, kom ek bring die twee by mekaar uit. Die storie waarin ‘n kind lewe is dikwels so kleurvol soos kinderboeke. Die lewe se trajek het nie ‘n einde of ‘n kinkel nie: die lewe begin, alles is Alfa, die begin van ‘n oneindige reis. Hierdie storie begin gekneus word soos Wagter en oupa doodgaan, maar veral wanneer die realiteit die Hoop in die fondasies van hierdie storie erodeer. Die kind besef op ‘n sekere stadium hy lewe toe nou nié in die spreekwoordelike tuin van Eden nie, en het ‘n nuwe storie nodig wat kan help sin maak uit die realiteit. ‘n Klomp onuitgespreekte stories word gevorm aan die hand van nuwe opwaartse trajekte: loopbaan- of finansiële sukses, liefdesverhoudings, fisieke versterking, verdieping in bykans enigiets. En tóg is geen van hierdie trajekte volhoubaar nie. Jy verloor jou werk, aandelepryse duik, die verhouding werk nie, die ouderdom bring skete, die nuwe motor verloor sy blink. Die storie knak weer, en vlerke wapper na lug.

“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots. En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”

Jesus in Mattheus 7:24-27

Slegs ‘n Hoop wat taan nie, ‘n storie wat nooit gekneus word, ‘n hoekom wat nooit uit goue draadje uit hardloop nie, kan ons dra en aanhou dra in hierdie lewe. ‘n Hoop wat nie eens vir die dood skrik nie.

Ek het só ‘n Hoop gevind in die Storie van die lewe, soos aan ons geopenbaar deur die geskiedenis heen en vandag opgeteken in wat ons die Bybel noem. Die Hoop in die fondasie van my lewe bestaan daarin dat ek (saam met alles anders) opsetlik, in liefde gemaak is deur ‘n goeie en almagtige Skepper. Die gebrokenheid wat ek in hierdie wêreld teëkom (en in myself vind) is nie hopeloos nie – nee, die Koning van die heelal het homself as losprys gegee om ons nie net van ons gebrokenheid te red nie, maar ook die hele skepping van die dood te verlos. Hierdie Herstel is sederdien aan die gebeur saam met die uitbou van Sy koninkryk, maar gaan aan die einde van hierdie Aarde se tyd ten volle aanbreek met die terugkom van die Koning. Ek en jy en almal en alles maak ten diepste saak, want ons lewe in ‘n ewige liefdesverhaal, waarin alles nuutgemaak gaan word (Openbaring 21:5).

Hierdie Hoop het nie einde nie (‘n spreekwoordelike Riviersonderend). Die goue draadjie breek nie. Deur die seer en die gebrokenheid, stel hierdie lewe nie teleur nie, want dis in pas met die Een wat vir my en jou en alles gemaak het.

Mag jy vir jouself die hoekom ontdek (en weer en weer ontdek) wat jou toelaat om vir altyd in volkleur te lewe. Mag hierdie Hoop vir jou lug onder jou vlerke en ‘n onvoorwaardelike vreugde in jou siel wees. En mag ons dit deel met dié wat rondom ons met kleiner stories hulle teleurstelling met die lewe probeer omseil.

Douvoordag – Skaduwee van die Berg

3 thoughts on “Meer as ’n Teleurstellende Lewe

  1. Jy is geseënd om die Hoekom so gou te kon ontmoet. Selfs nadat ek Jesus ontmoet het, of liewer: Hy my kom vind het, het die vrae nie opgehou nie. Steeds lees ek drie tot ses outobiografieë per week. Fiksie is #fakenews.

      1. Bloot omdat mens soveel daaruit leer, dink aan omgewing, mensekennis, reiservarings. As mens se oë oop is, mis jy mos niks. Dink net: twee tieners reis per trein na Kaapstad. Die een twiet:” hier is..okkol te sien” en die ander vertel van koedoes, elande, rheebokke, steenbokkies en ‘n swartwitpense.

        Twee meisies, een trein. Ek is die tipe ou wat die lewe raaksien.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.