Sekularisme en Relativisme: Wanneer ʼn Neutrale Ruimte Begin Voorskryf

Ons lewe in ‘n toenemend sekulêre bestel, waar sake van godsdiens en geloof taboe is in die publieke sfeer. En hierdie is tot ‘n groot mate te weeg gebring deur die realiteit van ‘n globaliserende, verstedelikende wêreld waar mense van verskillende gelowe, godsdienste, wêreldsbeskouings en ideologieë byna op mekaar se voorstoep woon en saam werk. Die sekulêre samelewing is daarom ‘n tipe neutrale grond waarbinne alle gelowe verdra kan word.

Die koste hiervan is dat ‘n aktiewe uitleef van mens se geloof in die publieke sfeer taboe is. En wanneer jy wel jou geloof in die openbaar uitleef, bedreig jy hierdie verdraagsame verstandhouding.

Ek is nie teen ‘n sekulêre bestel nie, aangesien dit werklik samewerking en samelewing moontlik maak waar dit andersins nie sou wees nie. Die probleem is egter dat geen samelewing werklik geloof-neutraal kan wees nie — omdat elke mens wat asemhaal se lewe en verstaan daarvan is gegrond is in iets. En sekularisme het ‘n geloof (of ‘n wêreldsbeskouing) van sy eie begin aanblaas, wat nou myns insiens die grootste antagonis geword het van aktiewe dissipelskap van Jesus.

‘n Samelewing van hou jou geloof privaat is in essensie ook ‘n samelewing van jy glo wat jy glo en ek glo wat ek glo. En omdat ons elkeen vas glo in wat ons glo en ons mekaar volgens die spel reëls van sekularisme nie mag uitdaag nie, verander dit geruisloos in jy het jou waarheid en ek het myne. Of, wat jy glo is waar vir jou. Hierdie is wat ons relativisme noem, en dit is, wat my betref, vandag die grootste antagonis van Christenskap (veral in die weste).

Relativisme voel baie tuis in die post-moderne tye waarin ons leef, aangesien die laasgenoemde ook skepties is oor absolute waarhede. Ek gaan nie nou die hoender-en-eier dilemma tussen hierdie twee -ismes probeer oplos nie.

Die kruks waarby ek wil uitkom is die manier waarop relativisme die Christelike wêreldsbeskouing uitdaag. Hierdie is ‘n voorbeeld van ‘n innerlike worsteling met dié twee fondasies:
Ek beskou myself as ‘n Christen. Ek glo in Jesus, en ek glo dat Hy God is wat hierdie wêreld betree het om vir my sondes te sterf. En ek sal graag wil glo dat ek Hom volg. Maar ek sukkel met Sy opdrag om die Goeie Nuus te versprei — want wie is ek om vir ander te sê dat wat ek glo reg is, en wat hulle glo is verkeerd? 

Klink dit bekend? Voel dit bekend?
Sien jy die spoor van relativisme hier? Ek glo in Jesus, maar dis my waarheid — en wie is ek om vir ander te sê dit moet hulle waarheid ook wees? Net daar.

Dit is soos u sê: Ek is ‘n koning,’ antwoord Jesus. ‘Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.’ ‘Wat is waarheid?’ sê Pilatus toe vir Hom.” – Johannes 18:37-38a

In die hart van die Christelike wêreldsbeskouing is die geloof in ‘n God wat losstaande van Sy skepping, buite die beperking van tyd en ruimte, is. Hy ís, objektief en absoluut (Sy naam, Yahweh, beteken letterlik in Hebreeus Hy is). Jesus Christus word deur Johannes die doper die Logos genoem (vertaal as die Woord, die Waarheid) wat reeds voor die skepping al daar was. Jesus ís, objektief en absoluut — en só ook die Waarheid van Hom en wat Hy kom openbaar het. Die Christelike geloof is ten diepste nie-relativisties; ons glo in ‘n absolute Waarheid. Wanneer Jesus in Johannes 14:6 sê Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie, dan is dit waar, en geld dit vir almal, elke liewe mens die wêreld oor, ongeag wat hulle glo. En daarom, om te sê ek glo in Jesus, maar dis slegs my persoonlike waarheid is om die Waarheid van Christus te verwerp en dit onderdanig te maak aan relativisme as alternatiewe filosofie.

Daar’s baie meer wat mens oor relatiewe en absolute waarheid kan sê. Ek kan die leesstof van RZIM in hierdie gebied aanbeveel. Kom ek sluit af, dan kan jy gaan loer.

As dissipel van Jesus in ‘n sekulêre samelewing sukkel ek ook met die diepliggende kontras tussen die samelewing se stem (“jou geloof moet privaat wees vir ons bestel om te werk”) en Jesus se “gaan uit en maak mense My dissipels” (Mattheus 28:19) en “as jy jou vir My skaam, gaan ek My vir jou voor die Vader skaam” (geparafraseer, Markus 8:38). Ek leer nog hoe dit lyk om my wandel met Jesus met liefde en sensitiwiteit in die openbaar uit te leef in ‘n diverse samelewing.

Wat ek egter wel weet, is dat wat ek glo nie bloot my eie is nie. Dis óf absoluut waar, of dis glad nie.

Mag ons mense wees wat die tye verstaan waarin ons leef. Mag die Here ons toerus om Sy liefde en Waarheid juis in hierdie konteks in te dra. En mag ons, met Sy krag en genade nooit ooit toelaat dat alternatiewe wêreldsbeskouings en filosofieë ons harte verduister of ons monde gesnoer nie.

‘n Paar Fariseërs uit die skare sê toe vir Jesus: ‘Meneer, maak stil u volgelinge!’ Maar Hy antwoord: ‘Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.” – Lukas 19:39-40

Advertisements

2 thoughts on “Sekularisme en Relativisme: Wanneer ʼn Neutrale Ruimte Begin Voorskryf

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.