Word-merke van ʼn Seisoen

My en my vrou se tyd in Johannesburg is byna verby. Ons het nog twee weke oor; vir my twee weke uit byna 4 en ‘n half jaar.

Soos mens maar doen, probeer ek in hierdie ekstra abnormale tyd sin maak uit waar ons seisoen-gewys, plek-gewys en roeping-gewys is. Ek het een oggend gevind dat my hart aan God die vraag vra: Here, is al die goed en mooi van ons hier-wees dan nou verby? Wat van die plekke waar my hart wortel geskiet het en tuis geword het? Wat van die vriende, die gemeenskap, waar ek vir die eerste keer in my lewe ‘n familie buiten my bloedfamilie gevind het? Onvoorwaardelike liefde in mense wat op ‘n tyd vreemdelinge was. Wat van ons jare in Randburg? Maak ons dit net toe soos ‘n boek, soos ‘n kar se deur? Hoe?!

In daardie oomblik het die Here my hart kom rustiger maak met die volgende gedagte.

Ek en jy is nie voltooide mense wat rondbeweeg, hier en daar bly, hierdie en daardie mense ken en weer aanbeweeg nie. Ons is nie konstantes in ‘n veranderlike lewe nie. Nee, ons word. Deur die plekke wat ons huis noem, deur die mense by wie ons onsself kan wees en vir wie ons toelaat om tot ons harte te spreek, deur die ritmes en roetines wat die metronoom van ons seisoen word. Ons word hierdeur gevorm, gemaak, getransformeer. In plaas daarvan dat dit iets ekstern aan ons bly (wat ons na die tyd sal kan afvee), word dit letterlik en ten diepste deel van ons.

Die Here het my aandag gevestig op die boom hier buite ons venster: die ringe binne ‘n boom se stam getuig van die boom se groei, van hoe sonlig en water en minerale jaar na jaar deur die verskillende seisoene deel van die boom geword het. ‘n Tyd van gesonde, welige groei kan in die boom se ringe gesien word. Só ook word die goeie, mooi en welige tye – tesame met die lesse en karakter-bou uit die taai tye – deel van ons, soos die Here ons maak.

En daarom is dit wat verby is, nooit verlore nie. Ek het word-merke op my siel in gemeen met die mense met wie ek die afgelope seisoen kon deel. Die plekke waar ek kon bly, en werk, en kon wees, is die plekke waar ek kon word. En daardie word is nou deel van my, en ander. Wat op die oog af as vlietend voorkom word deur my en jou verbind aan ʼn onverganklike Ewigheid – waarna ons en die hele skepping eweneens smag.

So, soos ek en Alisa (my vrou) begin om die tentpenne van ons lewe in Randburg uit te trek, maak die Here my bewus van hoe ek hier gegroei en verander het. Die word-merke word vir my ekstra sigbaar soos ek regmaak om terug te trek na die tuisdorp van my vorige seisoen, Stellenbosch. Die lewe is vreemd.

Ek weet nie waar jy tans in jou lewe is nie, maar daar gaan ‘n tyd kom wanneer jy ook jóú tentpenne gaan moet uittrek soos wat jou volgende seisoen wink. Mag die Here jou veral in daardie tyd kom wys hoe jy deur jou hartsmense en hartsplekke gewórd het. En wanneer die trane jou tref oor dit wat verby is en jy wil-wil bang word oor die onbekende wat voorlê, mag jy rustig word in die arms van ons Maker  – wat jou weer en weer sal omring met hartsmense en hartsplekke waardeur Hy beide vir jou en vir hulle wil maak.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.