Wanneer Katedrale Kompenseer

Ek was laasweek in Cambridge, Engeland met ‘n besoek aan die groep vir wie ek sedert Februarie werk. Tydens my tyd in Cambridge het ek die ongelooflike mooi King’s College Chapel besoek (sien foto). En soos ek daar rondgeloop het, het ‘n gedagte in my geroer en my genoop om net daar in die kapel te gaan sit en dit neer te skryf (tot een tannie se onbeskaamde irritasie):

Aangesien alle mense in God se beeld geskape is, is iets van ons ten diepste heilig. Boonop dit leef die Heilige Gees van God in die dissipels van Jesus — wat van ons lewende tempels maak, gevul met God se aktiewe teenwoordigheid. Hierdie kavod (gewigtige glorie) van die Een wat in en by ons is maak dat ons as Sy dissipels lewe en beweeg met ‘n gewigtigheid wat nie ons eie is nie. En dis my oortuiging dat die mens nie weet wat om met hierdie kavod te maak, of hoe om daarop te reageer nie…

You realize, don’t you, that you are the temple of God, and God himself is present in you? […] God’s temple is sacred — and you, remember, are the temple.” – Paulus in 1 Korintiërs 3:16 (The Message)

Soos ek in die grootse kapel sit, word ek daarvan bewus gemaak dat die Kerk van Christus die eeue heen eksterne dinge rondom homself (onsself) bou om as’t ware iets van God se gewigtige glorie in ons te help dra. Groot katedrale en kerk-geboue, kerk-hiërargieë, komplekse rituele, groot preekstoele en orrels, en meer onlangs kerkgeboue met skouspelagtige klank en beligting. Alles met ‘n onderliggende gevoel dat hierdie kavod van die Ewige God sekerlik ‘n groter, meer waardige tempel verdien as ek en jy.

Ironies genoeg, hoe meer ons ons tempel-wees eksternaliseer in strukture en dinge, hoe meer groei die vermoede/gevoel dat die mens te min is om God se tempel te wees. Jy, soos jy is, is nie genoeg nie; jy moet X, Y en Z doen om genoeg te wees. Dis ‘n bose kringloop, wat uitloop op ‘n vervreemding van God van ons kant af.

En hierdie, vermoed ek, is ‘n groot probleem met die Kerk soos ons haar veral ken in Europa, maar ook op ander plekke waar sy lank gevestig is en hoogs godsdienstig geraak het. Mense het hul status as lewende tempels van die lewende God eenvoudig verleer. En daarmee saam hulle dors na intimiteit met die immernabye God, wat geheel en al niks te make het met ons katedrale, maniere van musiek-maak, kerk “brands”, rituele, hiërargieë of selfs nasionalistiese entiteite nie. Binne hierdie kringe het die mens en die kerk eweneens vir hom ‘n eksterne dop gemaak en self begin wegkwyn binne daardie dop, dat daar uiteindelik net eksterne godsdiens oorbly.

Miskien ag die mens in die Weste homself nie verby die dae van God (“beyond God”) nie, maar eerder steeds as onwaardig om die kavod en liefde van God te ontvang. En soos die mens mos is, word die gevoel van onwaardigheid verbloem met ‘n ek-sal-jou-wys arrogansie, ‘n stywe bolip glimlag om die innerlike ek is nie goed genoeg nie skande en seer weg te steek. Aanvaarding en validasie word dan elders gesoek, soos in die self-definisie, seksuele uitdrukking en selfgesentreerde materialisme wat ons so duidelik in die Weste sien sien.

Te midde van dit alles kom ons Maker en fluister deur die eeue met ‘n glimlag: jy is regtig my tempel, my geliefde seun/dogter in en deur wie ek my aan die wêreld wil openbaar. Bewend wil ons dadelik reageer: n-nee Here, maak liewer iets anders U tempel… En tog is ons, as sagte, asemhalende wesens die beelddraers waarna God smag. Niks ekstra, niks ekstern beïndruk Hom nie.

Ek vermoed dat daar hierin ‘n uitnodiging is: om mense te word wat só die beeld van God, die Imago Dei, in ander raaksien en dit só in hulle bevestig en na vore roep, dat hulle dit in hulself begin raaksien. Om aan dié wat hulself nie waardig ag om God se tempel te wees nie (om watter rede ookal), só God se onverdiende liefde en genade te beliggaam dat hulle verdedigingsmeganismes teen Hom heeltemal wegsmelt. Hoe sal ‘n mensdom lyk wat werklik besef dat sy Maker versot is op hom?

Mag die genade van die Here Jesus en die liefde van God ons dring tot die beliggaming van transformerende genade en liefde teenoor ander. En mag ons die Heilige Gees toelaat om sonder enige mensgemaakte tierlantyntjies, reëls of strukture in my en jou en Sy Kerk te woon, en ons vrylik te beweeg en te vorm tot Sy eer.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.