Categories
Afrikaans Geestelik | Spiritual

Wyn-Lesse

My vrou, Alisa, het onlangs ‘n wynkursus deur die Cape Wine Academy gedoen. Gedurende haar studies het ek so in die verbygaan ‘n drie feite omtrent wingerde en wynbou geleer wat my aan die dink gesit het. In die lig daarvan dat Jesus ons in Johannes 15 wingerd-lote noem, het dit vir my geskakel met drie dieper waarhede, wat ek nou graag wil deel.

1. Moeilike grond maak goeie wyn

Mens sou dink dat die beste wyn van wingerd af kom wat lekker maklik en vinnig groei, sonder tekorte. Alisa lig my egter in dat die teenoorgestelde waar is. Die beter wyn, met meer komplekse smake, kom dikwels van wingerde wat hoër teen ‘n heuwel/berg op groei, in harder grond. Dis jou goedkoper, grootmaat wyn se wingerd wat in die makliker grond geplant word.

Dieselfde geld vir ons, as God se wingerd lote.

My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.” – Jakobus 1:2-4

Ons word deur die taai van die lewe gevorm. Wanneer jy iemand met karakter en diepte ontmoet, is die kans goed dat hy/sy al deur diep waters is. Jesus is na Sy doop die woestyn in. Gemak maak nie sterk nie. Moeilike grond maak goeie wyn.

2. ‘n Wingerd moet iewers in die dag koelte kry

In ‘n gesprek met Alisa en haar pa het ek geleer dat dit belangrik is dat wingerd iewers deur die dag afkoel. Ongeag die klimaat, en selfs hoe warm dit dalk deur die dag kan raak: koelte is van kardinale belang. Ek dink aan die Durbanville area (waar ek groot geword het), waar die Sauvignon Blanc wingerde só lê dat die seebriesie van Blouberg se kant af hulle kan afkoel.

Ongeag hoe rof en besig ons lewens is, ons het iewers deur die dag rus nodig. Ons het ‘n daaglikse ritme nodig waarin ons op ‘n stadium stil word en onsself daaraan herinner dat ons doen ons nie definiëer nie.

Are you tired? Worn out? […] Come to me. Get away with me and you’ll recover your life. I’ll show you how to take a real rest. Walk with me and work with me—watch how I do it. Learn the unforced rhythms of grace. I won’t lay anything heavy or ill-fitting on you. Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly.” – Jesus in Matteus 11:28-30 (The Message)

As die wingerd nooit daardie koelte kry nie, raak die suikervlakke te hoog en is dit nie geskik vir die maak van die wyn wat die wynmaker in gedagte gehad het nie. Prioritiseer die koelte in jou lewe. Miskien is ‘n seebriesie hierdie Desembervakansie ‘n goeie plek om te begin!

3. Snoei maak geurig

Die laaste een wat ek wil aanraak, is dat daar aan wyn wingerd soms van die druiwetrosse gesnoei word, sodat die res van die druiwe meer geurig is. Dit verseker dat die uiteindelike wyn ‘n voller, komplekse karakter het.

Ons moet ook gesnoei word. Wanneer ons fokus te dun versprei is deur ons lewe, as ons alles vir almal probeer wees, vir alles ja sê en by alles probeer uitkom, gee ons iets van ons karakter prys. Deur in ons eie lewens af te skaal, kan ons iets van kwantiteit prysgee ter wille van kwaliteit. Ons kan meer teenwoordig wees, en iets van Jesus se geur na vore bring in ‘n gejaagde wêreld. As die Here vir jou op ‘n stadium dalk nee sê in ‘n area wat jy regtig dink is ‘n goeie idee, kyk dalk na die res van jou lewe en vra Hom of Sy nee nie dalk ‘n ja vir ander areas is nie.

“Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. Julle moet in My bly en Ek in julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. ‘Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.” – Jesus in Johannes 15:1

So… Mag jy jou verheug in moeilike grond, mag jy tyd maak vir afkoel en mag jy die bevryding van die snoeiskêr ontdek.

Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom en sê vir hom: ‘n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou.” – Johannes 2:9b-10

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.